Johannes 15 vers 4: "Julle moet in My bly en Ek in julle.
'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie"


Wie is ons?

Die volgende mense is betrokke by die reëlings:

Fonteinvriende
Kontakpersoon: Linda Rossouw 082 402 4396
Alle afgetrede persone is baie welkom om by ons byeenkomste in te skakel.

Bybelstudie Kontakpersone:
Myra Schmidt 082 293 8985
Wat doen ons?

Ons byeenkomste vind elke derde Donderdag van die maand plaas. Tydens ons maandelikse komiteevergaderings beplan ons watter vorm die byeenkomste sal aanneem, byvoorbeeld die optrede van 'n spreker of 'n kunstenaar, 'n uitstappie of betrokkenheid by 'n ander gemeente. Ons dank elke keer ons Hemelse Vader dat Hy ons, ten spyte van ons grys koppe, nog in Sy gemeente wil gebruik.
Hoe kan jy by ons inskakel ?

Alle senior lidmate oftewel ervare jeug is baie welkom om by ons byeenkomste in te skakel. Ons soek vrywilligers om te help met vervoer en/of voorbereiding van verversings.
Kom in aanraking met bogenoemde persone indien u kan help.

FONTEINVRIENDE BYEENKOMS
Die Fonteinvriende skop die 2026 jaar af met 'n heerlike saamkuier geleentheid op Donderdag 12 Februarie.


Die Fonteinvriende het Donderdag, 28 Julie 2025, Afrikaans se 100ste bestaansjaar gevier met die tema: “Ons KAN in ons taal.” Daar is gesing, baie gelag en heerlik geëet – alles in Afrikaans.
Liewe Heksie het kom verras en Fonnie du Plooy was die gas-spreker.
Die verrigtinge het na die kerkgebou verskuif en die verversings, onder andere, eg-Afrikaanse disse soos bobotie, melktert en pannekoeke is in die saal geniet. Dit was heerlik om 'n eeu in ons moedertaal op só 'n manier te kon vier.
Fonnie se kwinkslae oor sy omroeper-dae het almal vermaak.

'n Reis na Onthou - Fonteinvriende se Vintage Funksie
In 'n tyd waar herinneringe kosbaar en saamwees gesog is, het die Fonteinvriende op 15 Mei weer 'n spesiale geleentheid geskep vir hulle kwartaallikse funksie vir afgetredenes. Met die tema “Onthou jy nog?” het Francois & Elizabeth 'n sangfunksie aangebied wat nie net hartlik nie, maar ook nostalgies was – 'n reis na gister. Die vintage tema was 'n groot treffer, met uitrustings wat herinner het aan vervloë dekades: hoede, kantrokke en brokaatjas het die atmosfeer van vervloë tye lewendig gemaak.
Gaste van die Patmos-gemeente het ook saam gekuier, wat die dag nóg meer spesiaal gemaak het. Die geleentheid het nie net visueel bekoor nie, maar ook 'n gevoel van gemeenskap en verbondenheid geskep. Geselskap, lag en herinneringe het die dag gevul – 'n ode aan die krag van herinnering en vriendskap.

Die Fonteinvriende (afgetrede persone) het 2025 heerlik afgeskop. Ja, ons kan t.s.v. die uitdaging van 'n paar seer knieë, gebreekte skouers en die ouderdom, die jaar groot begin. Op 13 Februarie was daar 'n gesellige oggend in die kerksaal gehou om die liefde te vier. Almal het lekker pret gehad met die raai van lede se troufoto’s en 'n musiekvasvra. Natuurlik is daar ook verversings geniet en besef God is Goed en Sy liefde vir ons oortref ALLES

SENIOR DAMES BYBELSTUDIE
Kontakpersoon : Sarie Lahoud 041 365 0004

Hierdie was die eerste Bybelstudiegroep wat in die gemeente Kraggakamma begin is. Die kerkgebou is in 1975 ingewy en mev Judy Viljoen het die volgende jaar met 'n dames Bybelstudiegroep begin. Aanvanklik het sy self die leiding geneem. Later is besluit dat verskillende lede van die groep, soos Matty Knoetze en Myra Schmidt, beurtelings leiding sou neem. In daardie stadium het hulle van Bybelkor se boeke gebruik gemaak. So het hulle onder andere die boeke van Romeine en Openbaring deurgeworstel.

Eleanore Zerbst het by die Bybelstudie groep aangesluit en later die leiding oorgeneem en daarmee voortgegaan tot haar dood in April 2011. Sy was 'n besonder begaafde vrou wat 'n passie vir haar godsdiens gehad het. Sy en haar man, Louis, het dikwels reise na die Bybellande onderneem. Sy kon haar kennis en ervarings in Israel en baie van die stede waarvan ons in die Bybel lees vir ons deurgee. Sy het vir ons as't ware die wêreld, waar Christus gelewe het en ook waar Paulus en die dissipels gereis het, geopen. In ons groep is daar toegewyde Christene wat bydraes kon lewer. Ons het dus vrugbare besprekings gehad en dit het gelei tot almal se geestelike groei.

Na die dood van Eleanore, is besluit dat van ons lede, wat daarvoor kans gesien het, elkeen vir 'n kwartaal leiding sou neem. Die volgende persone neem nou leiding: Matty Knoetze, Myra Schmidt, Duoletta van der Merwe, Stella Scheepers, Heleen Barkhuizen en Frances Supporta. Elkeen van hulle doen baie navorsing en is goed voorbereid. Ons het dan ook lede wat baie kennis van die Bybel het en dit lei tot interessante besprekings. Van tyd tot tyd maak ons gebruik van sprekers. Ons gebruik ook van on predikante wat soms vir ons vrae, waarmee ons worstel, beter belig. Met al die inligting wat ons kry, is dit natuurlik dat dit ons gebede beinvloed. Verder kan daar besluit word waar ons hulp, fisies en finansieel kan aanbied.

Tans bring ons elke Woensdag geld vir 2 bussies. Die een is vir brood vir Kleinskool en die ander een se geld word vir verskillende welsynsaksies gegee soos byvoorbeeld vir die gesinne in ons gemeente wat finansiële probleme ondervind.

Op die oomblik is daar 19 lede in ons groep. Alhoewel daar gevoel is dat ons moet verdeel, wil niemand afstig nie. Dit is omdat daar so 'n band van meelewing en liefde tussen ons bestaan. Waarskynlik is dit ook omdat baie van ons deur ernstige siektetoestande gegaan het en deur die genade van God en die ondersteuning en gebede van ons lede genesing ondervind het. Baie van ons kan van wonderwerke getuig.

Ons glo dat ons nie toevallig in hierdie gemeente geplaas is nie. Dit is waar die Here ons op hierdie oomblik wil hê.

Vir ons is dit dus 'n wonderlike voorreg om elke Woensdagoggend bymekaar te kom om inspirasie uit God se Woord te ontvang.



† Na bo †
© 2009-2026 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.