Die storie agter die storie oor die herkoms van die eerste vyf kanselklede van die NG Kerk Kraggakamma

Die idee het ontstaan toe Ronel Gouws, die eggenote van een van ons vorige predikante, ds Ferdi Gouws, iewers in `n kerk gesien het dat gebruik gemaak word van `n stel kanselklede wat telkens, afhangende van die kerkperiode, omgeruil word.

Ronel het vir Stienie Knoesen, my eggenote, (sedertdien ontslape) genader. Hulle twee het vir Heila van der Merwe, `n welbekende kunstenaar in skilder en dekor ontwerp, genader om maar net een van die vele persone wat genader is, te noem. Heila was opgewonde oor die plan om vir ons kerk, afhangende van die kerkperiode, ook ons eie klede te maak. Hulle het besef dat hulp gekry moes word. Hulle nader toe weer drie van hul kunsnaaldwerk vriendinne, naamlik Mattie Knoetze, Ita le Roux en Arina Kriel - almal dames vol idees wat ook met naald en gare kon toor. Heila verf toe vyf skilderye van die klede waarop hulle besluit het, naamlik vir nagmaal, pinkster, lydenstyd, advent en die oorwinningskleed (God is Koning). Die beskrywing van die klede se kleure en die simboliek van die kleure kan ook op die webwerf gelees word. Heila en Dawie Kriel was verantwoordelik vir die beskrywing.

Wat van die basisse? Iemand noem toe dat daar `n dame in "Lower Valley Road" is wat `n aantal swart vrouens leer om met bokhaar te weef. Dit was die ideale oplossing, want bokhaar is volop en hou vir ewig en trek nie stof aan nie. Na baie rondry spoor ons haar toe op. Vroeg in die ontstaan van die projek, is ek en my BMW opgekommandeer om die vervoerprobleme op te los - geen tëepratery is geduld nie! Met mooipraat en beduie stem die dame toe in om die basisse te weef - drie met kruise en twee sonder kruise. Na vele besoeke aan die dame is die klede en die tossels geweef.

Intussen moes alle lappies, gare, materiaal en goue draad opgespoor, uitgesoek en gekoop word. Lappies was nodig om op die basisse met appliekwerk vas te werk. Daar moes ook iemand gevind word om die naaldwerk te inspekteer. Een van die dames sê toe sommer: "Stienie moet dit doen, want as Stienie ontevrede is, sal sy net sê: Trek uit en doen dit oor!" Elke lappie moes presies die regte kleur, waarop besluit was, wees. Heila het baie keer die lappie bekyk en gesê: "Die kleur is amper reg, maar dit blink en moet dof wees, nie blink nie." As dit gebeur het, het ek net vir Stienie gesê: "Klim!" en ons ry weer om die regte lappie of wat te soek. Ons het elke lapwinkel en "gaat" in Port Elizabeth opgespoor. Die mense het later gesê: "O, dis julle. Gaan krap maar daar in die afval-kaste."

Elke lappie en draadjie moes eers deur Stienie en Heila se hande gaan voordat dit gebruik kon word. Hulle standaarde was baie hoog. Matty en Ita het probleme met die dorinkies gehad - hulle kon dit nie skerp kry nie. Ek het die probleem opgelos deur my vingers in ou wit verf te doop en dan die woldorinkie met my verfbesmeerde voorvinger en duim vas te vat,`n draai te gee en na my toe te trek. Eindresultaat: `n skerp dorinkie.

Die tyd vir die hang van die klede het uiteindelik aangebreek. Toe ek een keer by die kerk kom, was Dr Leon Steenkamp besig in die voorportaal om mate te neem. Die Kerkraad het vroeër reeds besluit om `n gedeelte van die voorportaal vir `n "huilkamer" met `n dubbele glas af te skort en om dit klankdig te maak. Die vertoning van die klede in rame sou nie gepas wees nie. Ek stel toe voor dat, in plaas daarvan om die klede teen`n steenmuur op te hang, die vertoonkant van die afskorting gebruik moet word om die klede te vertoon.

Die voorstel is met die kerkraad asook die bouers, wat die afskorting moes maak, bespreek en aanvaar. Die uiteinde was dat Ruby Steenkamp vir mnr Flippie Botha gevra het om die deure asook die banke vir die "huilkamer" te maak. Die vertoonkant is van glasdeure voorsien.

Daar was wel sprake dat die hang van die klede seremonieel moes geskied, maar dit het nie gebeur nie.

Nadat die kanselklede gemaak is, het die dames besluit om ook bypassende tafelklede te maak vir die tafel waarop die simboliese nagmaalbeker en -bord vertoon word. Die beker en bord is deur mev Vi le Roux, spesiaal vir die opening van die kerkgebou, gemaak.

Ter vestiging van die geskiedenis en vir wie daarin mag belangstel, word vermeld dat die ondergetekene die plaatjie, wat op die middelbalk vertoon word, laat maak het ten einde die onbaatsugtige werk so te verewig en die nagedagtenis van hulle, wat 18 maande lank geswoeg het om die werk gedoen te kry, te eer.

Dit is immers ook deel van ons gemeente en kerk se geskiedenis.
[Ingestuur deur Dick Knoesen]

"Die Oorwinnaarskleed"





Die opstanding.
Jesus die opgestane Heer, die Oorwinnaar en Koning word deur die kroon uitgebeeld.
Jesus die Alfa en die Omega, wat is, wat was en altyd sal wees.
Die kruis op die kroon dui op Sy genade. Selfs as oorwinnaar is Hy nog die Lam wat Homself gee.
Die groot kruis verbind God met die mense.
Die mense of gemeente word uitgebeeld deur die sewe-arm-kandelaar met vlamme.
Die Heilige Gees laat die vlam van liefde en lig vir die wêreld in die gemeente brand.
Ligstrale word van die kandelaar (gemeentes) na die res van die wêreld uitgestraal.






"Kleed vir Lydenstyd"





Die dieprooi kleur beeld die bloed en lyding van Jesus uit.
Die pers en goud simboliseer Sy koningskap en oorwinning oor die sonde.
Die groot sentrale kruis wys op die kruisiging van Jesus vir ons sonde.
Die ander twee kruise simboliseer die mense van die wêreld - party verwerp Jesus en gaan verlore, ander aanvaar Hom as middelaar en word deur Sy genade gered.
Die doringkroon is die teken van Sy lyding, wat 'n oorwinnaarskroon word.
Die goud dui op Sy koningskap en Sy lig skyn selfs in die diepste lyding.






"Pinksterkleed"





Die blou kanselkleed dui op die hemel waarvandaan die Heilige Gees na die wêreld kom.
Die duif simboliseer die Heilige Gees wat op die kinders van die Here uitgestort word.
Die Duif is ook 'n teken van God se liefde wat alle verstand te bowe gaan.
Die vlamme dui op die vlamme wat op die gelowiges se hoofde neergedaal het toe die Heilige Gees die eerste keer uitgestort is. Die vlamme is ook 'n simbool van entoesiasme, liefde en toewyding wat die Heilige Gees in ons harte laat brand.








"Nagmaalskleed"





Die kruis is 'n teken van Jesus se lyding en kruisdood vir ons sonde.
Die koringare en broodkleur van die kleed is 'n teken van Jesus se liggaam wat vir ons sonde gebreek is.
Die druiwekorrels wat gepers word is 'n teken van Sy bloed wat vloei en ons reinig van sonde, sodat ons onbevlek voor God kan staan.









"Kleed vir Adventtyd"










Die middernagblou is 'n teken van die nag toe Jesus gebore is, maar ook die duisternis wat geheers het in die wêreld.
Die ster is Betlehemster wat sy geboorte aankondig, maar dis ook 'n teken van die Lig - Jesus wat die duisternis verdring.
Jesus die blink Morester, bring lig na die wêreld.
Die engelekoor kondig die geboorte van Jesus aan - die Evangelie die goeie nuus: Die Messias het gekom - God met ons!




"Koninkrykstyd"





Simbole en fokus van Koninkrykstyd
Die sentrale simbool van hierdie tyd is die van die kerk as 'n bootjie met 'n kruis op. Dit simboliseer ons as kerk as draer van die kruis in en na die wêreld. Ons is deur God se genade medewerkers aan die koms en realisering van God se koninkryk in die wêreld.
As Geesbeheersde mense dra ons die goeie nuus van Jesus se verlossing uit. Ons reik met God se liefde uit na mense in nood.

Kleure in Koninkrykstyd
Die kleur van Koninkrykstyd is groen. Die kleur op sigself verwys na lewe, groei en vooruit- gang. Dit beeld die nuwe lewe wat God se Gees in ons werk, uit.

Die kanselkleed is deur Marlize Westraadt ontwerp en gemaak.

† Na Bo †
© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.