Kasuur - Pittosporum viridiflorum

NGK TERREIN AREA 2 : OOS, OORSKRYDING


KASUUR - Pittosporum viridiflorum


BESKRYWING: 'n Immergroen boom tot 15 m hoog in bosveld, maar tot 30 m in woud, met 'n digte ronderige tot regop kroon.
Bas van jong stingels liggrys, maar grys, grof en skilfer effens af by ou stamme, met dwarsnate en 'n ligte dopgeur en bitter smaak.
Blare afwisselend, enkelvoudig, omgekeer eierrond, punt gerond tot stomppuntig, blink donkergroen aan bokant en ligter groen onder, met prominente are op onderoppervlak, rand kenmerkend halfdeurskynend, blaarskyf spitslopend na die basis.
Blomme in digte eindstandige trosse, roomgeel tot groenerig, met 'n soet heuninggeur.
Vrug in digte eindstandige trosse, doosvrugte gelerig, 6-10 mm in deursnee, met twee kleppe wat oopgaan en die klewerige, harsagtige, rooi vrugvleis rondom die saad blootlê.
Hout naaswit, met min verskil tussen spinthout en kernhout.

DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas grys en glad, met dwarsverlopende nate by ouer takke; dropgeur en bitter smaak; are prominent aan onderkant, rand halfdeurskynend; doosvrugte tweekleppig, met rooi harsagtige vrugvleis rondom die saad.

BLOMTYD: van September tot Desember.

VRUGVORMING: van Desember tot April.

VERSPREIDING: Van Arabië in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide. Ooswaarts deur Madagaskar tot in Indië.

HABITAT: Groei in woud tot beboste grasveld. Soms opvallend langs stroomoewers en naby riviere. Altyd in goed gedreineerde grond.

EKONOMIESE WAARDE: Beeste, bokke en veral wild soos koedoes, njalas, bosbokke, klipspringers en gewone duikers vreet die blare. Kleiner wild verkies die jong, sagte blare. Bome van die droër karoostreke is geneig om smaakliker te wees as die in gebiede in KwaZulu-Natal en Limpopo Provinsie met hoë reënval. In die Karoo het kasuurbome dikwels lang stamme met 'n ronderige maar digte kroon wat skadu bied. Boere van die streek beskou dit as 'n baie waardevolle boom. Die saad word graag deur duiwe, kwêvoëls, houtkappers, tiptolle en sprreus gevreet. Bospatryse en tarentale vreet die vrugte wat afval. Die hout word steeds vir kombuismeubles en rakke gebruik.

ANDER GEBRUIKE: Die wortel of bas van kasuur word gedroog, fyngemaal en die poeier dan as geslagsprikkelmiddel in bier gedrink. 'n Aftreksel van die wortels word mondeliks vir borskwale geneem of as lawement gebruik om duiseligheid te behandel. 'n Afkooksel van die bas word as braakmiddel gebruik en soms as 'n lawement vir die behandeling van maagkwale, malaria en ander koorsverwante siektes.

KWEKING: Word maklik van saad gekweek. Ongeparasiteerde saad kan maklik van bome in die veld verkry word (sowat 6 000 sade per kilogram). Saai die saad in plat saailingkissies in 'n mengsel van riviersand en kompos (3:2). Bedek die sade liggies met fyn kompos en hou vogtig. Die saad neem 8-12 weke om te ontkiem, met 'n ontkiemingsukses van 80-90%. Die saailinge groei betreklik vinnig en moet in 'n soortgelyke mengsel in kwekerysakke oorgeplant word wanneer hulle twee blare het. Dit kan ook duer middel van sagtehout- of halfryphoutsteggies gekweek word. Dit is raadsaam om 'n hormoonpoeier te gebruik om wortelgroei te stimuleer. Die groeitempo is middelmatig, 400-700 mm per jaar. Hierdie boom is redelik bestand teen ryp en droogte en groei ewe goed in volle son en ligte skadu. Dit groei die beste in goed gedreineerde grond, met redelik baie water.

Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin

© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.