Septemberbossie - Polygala myrtifolia

NGK TERREIN AREA 5 : SAAGTANDMUUR EN BINNEHOF


BESKRYWING: 'n Immergroen boom tot 4 m hoog met 'n digte kroon.
Bas van jong takke groengrys en glad, maar grys tot bruin en glad by ouer takke en stamme.
Blare enkelvoudig en afwisselend, breed by die kus, baie smaller in die binneland, liggroen, sag, blaarpunt gerond tot byna plat met 'n kort puntjie, rand glad.
Blomme tot 25 mm in deursnee, met 3 kroonblare wat bestaan uit twee vleuels en een kiel met 'n veeragtige kuif, varieer in kleur van pienk, mauve tot pers met pers are, meeldrade 8 en verenig om 'n gesplete buis te vorm.
Vrug 'n klein, ovaalvormige, effens gevleuelde, oopspringende doosvrug omsluit deur die blywende kelkblare.

DIAGNOSTIESE KENMERKE: Immergroen; blare sag en liggroen met geronde punte wat in 'n skerp puntjie eindig, blaarsteel baie kort; blomme in kort trosse op punte van takke, met 3 kroonblare wat bestaan uit twee vleuels en een kiel met 'n veeragtige kuif, meeldrade 8 en vorm 'n gesplete buis. Vrug 'n effens gevleuelde oopspringende doosvrug.

BLOMTYD: regdeur die jaar met 'n hoogtepunt van Mei tot September.

VRUGVORMING: regdeur die jaar.

VERSPREIDING: Van KwaZulu-Natal in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.

HABITAT: Kom voor in woud, struikgewas, beboste grasveld, langs stome en op duine.

EKONOMIESE WAARDE: Die Septemberbossie lok massas swart en helderkleurige houtkapperbye wat die blomme bestuif. Rooiborsduifies vreet graag die vrugte. Dit maak 'n baie netjiese en interessante heining wat meer as een keer per jaar gesnoei kan word. Indien dit nie gesnoei word nie, vorm dit 'n doeltreffende skermplant. Dit vertoon die beste langs 'n stroom of waterpoel en kan in volle son of ligte skadu geplant word. Die Septemberbossie is 'n netjiese plant langs 'n oprit waar dit regdeur die jaar vorm, tekstuur en kleur sal gee.

ANDER GEBRUIKE: Jig word behandel met 'n pap wat van die blare gemaak word.

KWEKING: Word maklik gekweek van saad wat in die lente gesaai word. Saai die saad in kissies gevul met 'n 1:1-mengsel van sand en kompos. Bedek die saad met 'n dun lagie riviersand en hou vogtig. Dit kan ook van halfryphoutsteggies gekweek word. Doop die onderpunt van die steggies in groeihormoonpoeier en plant hulle dan in skoon riviersand. Jong plante blom wanneer hulle 'n hoogte van sowat 300 mm bereik. Hulle kan direk in die oop grond of in kwekerysakke in 'n sanderige of leemmengsel geplant en dan die volgende seisoen uitgeplant word. Septemberbossies saai hulself en vorm gou 'n klein gemeenskap van plante. Die groeitempo is vinnig, tot 1 m per jaar. Die plant is bestand teen droogte en kan baie ligte ryp oorleef.

Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter

© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.