Soetdoring - Acacia karroo

NGK TERREIN AREA 2 : OOS, OORSKRYDING

 

BESKRYWING: 'n Immergroen boom tot 20 m hoog.
Bas grof en gegroef by ouer takke en stamme.
Dorings verleng en volop by jong bome, 30-250 mm lank.
Blare in oksels van dorings, dubbelveervormig saamgestel, met 2-6 paar pinnas elke met 5-27 paar blaartjies.
Blomme soetgeurig, 10-13 mm in deursnee.
Vrug 'n bruin sekelvormige oopspringende peul tot 160 x 10 mm.
Hout met 'n ligbruin tot gelerige spinthout met prominente jaarringe en 'n harde rooibruin middelmatig swaar (lugdroog 800kg/m) kernhout.

DIAGNOSTIESE KENMERKE: Jong takke rooibruin; dorings in pare, reguit; klier op blaarsteel groot; blomme diepgeel en in ronde bloeiwyses in groepe naby punte van takke; peul oopspringend, sekelvormig.

BLOMTYD: van Oktober tot Februarie.

VRUGVORMING: van Januarie tot Mei.

VERSPREIDING: Van Zambië en Angola in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.

HABITAT: Word in die meeste habitats aangetref. By 'n verskeidenheid klimaats- en vogtoestande aangepas. Meestal in beboste grasveld en aan die rand van vleierige plekke. Nie tot enige spesifieke soort grond beperk nie.

EKONOMIESE WAARDE: 'n Uitstekende voerboom met smaaklike blare, blomme en peule, met geen gevaar van blousuurvergiftiging nie. Wild soos swartrenosters, kameelperde, elande, koedoes, njalas, swartwitpense, gemsbokke, rooibokke en springbokke en ook vee hou van die blare. Die soetdoring met sy aanpasbaarheid by 'n wye verskeidenheid grondtipes en klimaatstoestande het beslis 'n plek op plase en in dorpe. In gebiede met baie min bome kan dit as windskerm by geboue, veekrale en landerye aangeplant word. Met sy donkerbruin bas, digte loof en goudgeel bloeiwyses is dit 'n pragtige sierboom op enige plek. Dit het egter 'n indringende wortelstelsel wat skade aan geboue en plaveisel sal aanrig. Die blomme lok massas insekte wat weer 'n aantrekkingskrag vir 'n verskeidenheid insekvretende voëls is, tot voordeel van enige voëlliefhebber.

ANDER GEBRUIKE: Kinders eet graag die gom (arabinose-galaktose-tipe) wat 'n aangename, effens suur smaak het. Dit kan egter ook in lekkers en as kleefmiddel gebruik word. Die binnebas is buigbaar as dit nat is en baie sterk tou kan daarvan gemaak word. Verdunde gom word as mondspoelmiddel vir sproei gebruik. 'n Aftreksel van die bas word vir die behandeling van diarree en buikloop gebruik.

KWEKING: Groei maklik van saad. Dompel die saad in warm water, laat week oornag en saai dit dan die volgende oggend. Plant die saad direk in klein swart kwekerysakke of in plat saailingkissies in 'n saailingmengsel wat by enige kwekery beskikbaar is. Bedek die saad liggies met sand en hou vogtig. Die saad ontkiem gewoonlik 3 tot 12 dae later. Plant uit wanneer die saailinge se tweede blaar ontvou. Ten spyte van die lang penwortel, plant die saailinge maklik uit. Die soetdoring is bestand teen ryp en droogte en groei vinnig, tot 1 m per jaar. 'n Beskermde boom in die Noord-Kaap en die Vrystaat.

Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin


© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.