Spekboom - Portulacaria afra

NGK TERREIN AREA 4 : VOOR KERKSAALLAAN

         

BESKRYWING: 'n Immergroen sukkulente boom tot 5 m hoog, met sagte, vlesige stamme en 'n digte kroon. Bas van jong takke glad, blinkpers, maar glad en rooibruin tot grys by ouer takke en stamme. Blare enkelvoudig en in teenoorstaande pare, dik en vlesig, omgekeer eierrond, met onduidelike are en gladde rande, blaarsteel baie kort. Blomme in digte trosse aan kort sytakkies, stervormig, pienk, met 2 kelkblare en 5 kroonblare. Vrug 'n drievlerkige papieragtige doosvrug 3-5 mm lank. Hout sponsagtig en lig.

DIAGNOSTIESE KENMERKE: Immergroen bas glad; blare vlesig, blaarsteel baie kort; blomme pienk, stervormig, met 2 kelkblare; vrug drievlerkig.

BLOMTYD: Junie tot November

VERSPREIDING: Van die Soutpansberg in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.

EKONOMIESE WAARDE: Lewer uitstekende voer met 'n hoë vog- ,maar lae proteïeninhoud. Die meeste vee en wild soos olifante, koedoes, njalas, bosbokke, rooibokke, klipspringers en gewone duikers bewei hierdie plant. 'n Ware redder van lewens in die droër dele, veral in tye van droogte.

ANDER GEBRUIKE: Die vroue van sekere Afrikastamme wat te min melk vir hul babas het, eet die blare.
Gedroogde, gemaalde blare word as snuif gebruik.

KWEKING:

Word maklik gekweek van steggies wat in die lente van eenjarige lote gemaak word. Die helfte tot twee-derde van die steggies moet onder die grondoppervlak wees.

Hier is ons spekboompie nou al so 2 weke oud.

"Kyk al die wortels na net 2 weke."













2 Weke

2 Maande

6 Maande












'n Ander metode is afleiring: takke wat op die grond lê sal na 'n ruk wortelskiet en kan dan in lengtes van 300 mm opgesny en geplant word. Spekboom kan ook van saad gekweek word, maar steggies is gouer en makliker. Uiters bestand teen droogte en sal 'n beperkte hoeveelheid ryp oorleef. Groei goed in alle soorte grond, selfs in swaar swart turf. Indien dit in 'n tuin geplant word, soek 'n sonnige plek met genoeg ruimte daarvoor uit. In 'n tuin moet spekboomplante gereeld gesnoei word. Baie soorte voëls maak nes in hierdie boom. Die groeitempo is middelmatig vinnig, 0.7-1m per jaar.

Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: Steggies tot 6 maande - Leon Cloete


© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.