Witstinkhout - Celtis africana

NGK TERREIN AREA 2 : OOS, OORSKRYDING

 


BESKRYWING: 'n Groot bladwisselende (halfbladwisselend in woud) boom tot 40 m hoog.
Bas van jong takke harig, maar glad, liggrys, soms met horisontale riwwe by ouer takke en stamme.
Blare afwisselend, enkelvoudig en liggroen wanneer jonk maar donkergroen wanneer volwasse, met 'n drupunt, rand getand oor boonste twee derdes, blaarsteel tot 35 mm lank.
Blomme verskyn saam met die blare, geelgreon, manlike blomme sittend en in digte bondels aan basis van nuwe takkies en vroulike blomme alleenstaande of 'n paar bymekaar, aan langer blomstele.
Vrug 'n klein gelerige steenvrug met vrugsteel 20-25 mm lank.
Hout middelmatig hard en middelmatig swaar, baie buigbaar, ligte suurlemoengeel, met byna geen onderskeid tussen spinthout en kernhout nie.

DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas glad en grys; blare met drie groot are vanaf asimmetriese blaarbasis; manlike blomme sittend en in bondels, vroulike blomme aan lang blomstele, alleenstaande of 'n paar bymekaar.

BLOMTYD: van Augustus tot Oktober.

VRUGVORMING: van Oktober tot Februarie.

VERSPREIDING: Van Arabië en Ethiopië in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.

HABITAT: In gebiede met hoë reënval in woude en langs strome maar in streke met laer reënval in bosveld of beboste grasveld, op termiethope of rotsriwwe. Nie tot enige spesifieke soort grond beperk nie.

EKONOMIESE WAARDE: Vee, veral beeste, en wild soos koedoes, njalas, bosbokke, rooibokke en gewone duikers vreet die blare en jong takkies. Diere hou meer van die volwasse blare as die jong blare en sal selfs blare van die grond af optel. Die hout kan vir algemene skrynwerk op 'n plaas en vir die maak van ligte, sterk meubels gebruik word. 'n Goeie hout vir rakke omdat 'n mens spykers en skroewe maklik inkry en die hout nie kromtrek nie. Bobbejane en ape smul graag aan die ryp vrugte en die boom is ook gewild by vrugtevretende voëls soos tiptolle, muisvoëls, houtkappers, papegaaie, loeries en duiwe, veral geelbekbosduiwe in woudgebiede. Larwes van die Afrikaanse snuitskoenlapper (Libythea labdaca) en die bloukol-dubbelstert (Charaxes cithaeron cithaeron) leef op die boom. Hierdie boom is baie nuttig in kampe op die hoëveld waar vee teen die warm somerson beskerm moet word. Die witstinkhout is 'n gewilde tuin- en straatboom ten spyte daarvan dat dit sy blare in die herfs verloor, met mooi geel herfskleure. Waar die boom tussen struike geplant word, gee dit skadu in die somer maar laat son deur in die winter. Wanneer die boom kaal is, maak die vertakkingspatroon en die liggrys bas 'n mooi vertoning. Witstinkhout kan ook in 'n houer geplant word en reageer goed op snoei. Gee die houer in die somer ten minste een keer per week water en in die winter een keer per maand. 'n Bonsai-gnsteling regoor die wêreld. Die blare verdwerg maklik en die plant neem gou die volwasse vorm aan.

ANDER GEBRUIKE: Gereedskaphandvatsels word van die jong takke en lote gemaak. Die hout kerf maklik en is duursaam en daarom word dit vir huishoudelike artikels soos lepels en bakke gebruik. Die ryp vrugte se dun vrugvleis is lekker soet.

KWEKING: Vars saad moet van 'n boom versamel word aangesien saad wat 'n mens onder die boom optel gewoonlik vol insekte is. Daar is sowat 10 000 sade per kilogram. Indien saailinge vir koue gebiede bestem is, moet hulle gekweek word van saad van rypbestande bome. Saai die saad in saailingkissies gevul met riviersand en kompos (5:1). Bedek die saad met 'n dun lagie riviersand en hou vogtig. Ontkieming neem gewoonlik 8 tot 30 dae indien die kissies op 'n warm skaduryke plek gehou word. Die ontkiemingsukses is gewoonlik 50-70%. Die boom groei vinnig, gewoonlik 2 m pr jaar in diep grond en met genoeg water. Bestand teen droogte en ryp. 'n Beskermde boom in Suid-Afrika.

Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin

© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.