EEN VISIE. EEN STAD. GENEES ONS NASIE.
Gebed inisiatief van 18-20 Augustus in Nelson Mandela Baai.
Bid vir genesing en versoening
Bid dat harte versag en wonde genees word. Vra God om versoening tussen mense van verskillende rasse, politieke partye, gelowe en agtergronde te werk. Bid vir vergifnis, empatie en begrip.
Bid vir leierskap
Bid vir wysheid, nederigheid, integriteit en deernis in ons leiers. Vra God om vir hulle 'n visie vir eenheid en moed te gee om moeilike besluite, wat die algemene welsyn bevorder, te maak. Bid dat hulle regverdig sal regeer en sal werk vir die mense.
Bid vir media en beinvloeders
Bid dat die media, joernaliste, openbare figure en leiers die media as platform vir boodskappe van hoop, empatie, waarheid en eenheid sal gebruik eerder as om leuens, vrees of verdeeldheid te versprei.
Bid vir gemeenskappe
Bid vir eenheid, vertroue en samewerking binne ons plaaslike gemeenskappe. Vra God om verhoudings tussen bure, gemeenskapsgroepe, skole, kerke, besighede en burgerlike organisasies te versterk. Bid dit mense van uiteenlopende agtergronde sal opstaan vir gedeelde belange en vir die voordeel van die metro.
Bid vir jouself
Bid dat God vir jou 'n gees van eenheid, nederigheid en versoening sal gee. Vra Hom om enige vooroordeel, bitterheid of verdeeldheid uit jou lewe te verwyder. Bid vir wysheid en moed om brue te bou met mense wat anders as jy is en om genesing in verhoudings te bevorder. Ons volk se eenheid en stad se herstel begin by elkeen van ons.


Mense inspireer ons dikwels om die regte goed te doen.
Hierdie week (6-11 Feb) vier ons mans in die Bybel wat ware mans is - nie omdat hulle perfek is nie,
maar omdat hulle wel iets verstaan van wat dit beteken om 'n man na God se hart te wees.
Kom gee saam met ons high fives!
Dag 1: 'n High five vir 'n man wat nederig is (1 Korintiërs 15:9-10)
Dag 2: 'n High five vir 'n man wat liefdevol is (1 Samuel 19:1-7)
Dag 3: 'n High five vir 'n man wat onbaatsugtig is (Genesis 13:1-12)
Dag 4: 'n High five vir 'n man wat selfbeheersing het (Genesis 39:6-20)
Dag 5: 'n High five vir 'n man wat berou kan toon (Johannes 21:15-19)
Dag 6: 'n High five vir 'n man wat kan vergewe (Genesis 33:1-5)

So, waar is jou God dan nou?
Gereeld word hierdie vraag op my losgelaat in die daaglikse rubriek wat ek behartig in die dagblad Beeld. Gewoonlik word 'n slegte scenario eers vir my geskets, soos een of ander wreedaardige misdaad waarin iemand betrokke was, en dan word dit opgevolg met daardie verwytende vraag: 'Waar's jou God van liefde nou?" Of iets soos: "As God liefde is, hoekom het Hy dit nie gekeer nie?"

Wel, sulke dinge is verskriklik. Dis hartverskeurend sleg. Om egter sulke wreedhede voor God se deur te lê, is om Hom te verander in 'n hemelse programmeerder met ons as menslike robotte. God het nie robotte gemaak nie; Hy het mense gemaak; mense met vryheid van keuse. Nie een van ons is willose slagoffers van bose drange of siek begeertes nie, tensy ons kies om dit te wees. Ons is nie geprogrammeer tot boosheid, misdade of geweld nie. Of tot slaafse gehoorsaamheid aan God nie. Een ding wat ons as mense juis onderskei van die res van die skepping is ons reg tot keuses. Ons het nie ingeplante mikroskyfies binne-in ons wat al ons gedrag reguleer en vooruit bepaal nie. Ons is morele wesens. So het God ons almal geskep. Ons is ook aanspreeklik voor Hom vir ons keuses. Nooit forseer die Here ons tot gehoorsaamheid aan Hom nie. Ons is nie geprogrammeer om willoos te handel en te leef soos wat die Here van ons verwag nie. Mense se bose keuses is teen God se wil. Dit is vir hulle eie rekening. So leer Jakobus 4 ons helder en duidelik as hy skryf slegte mense veroorsaak slegte dinge. Mense wat teen God kies is die mense wat moor, roof en steel. God gee graag net goeie gawes en goeie dinge vir ons, soos wat Jakobus 1 leer. Snaaks genoeg vra daardie einste mense wat so kwaad is vir God nooit vir my waar is Hy as dit goed gaan met hulle nie. Dan is dit sommer net hulle eie skuld! Maar laat iets net skeef loop, dan is daardie mense smoorkwaad vir God, selfs al het hulle Hom nooit gedien in hulle sonskyndae nie.

Ek dien nie 'n mooiweer-God nie. Ek weet die ware God is by my wanneer ek langs groen weivelde loop, maar ook wanneer ek deur 'n diep donker dal worstel. Wanneer die son rondom my skyn, maar ook wanneer lyding my naam en adres het, is God naby. In Christus is Hy my hoop. Dit weet ek onder alle omstandighede. [Goeie Nuus deur Stephan Joubert www.ekerk.org]

† Na Bo †

© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.